Dendrological Society of South Africa

  • Home/Tuis
    • Tuis
    • Info
      • History/Geskiedenis
        • Mission/Missie
          • Constitution/Grondwet
            • Management/Bestuur
            • Member/Lid
              • Members of the Central Committee/Lede v.d sentrale komitee>
                • Portfolio-President>
                  • Portefeulje - president (Afr)
                  • Portfolio-Honorary Secretary>
                    • Portefeulje -sekretaris (Afr)
                    • Portfolio-Treasurer>
                      • Portefeulje -Finansies (Afr)
                      • Portfolio-Tree Conservation>
                        • Portefeulje-Boom Bewaring (Afr)
                        • Portfolio-Training>
                          • Portefeulje-Opleiding (Afr)
                          • Portfolio-Big Trees>
                            • Portefeulje-Groot Bome (Afr)
                            • Portfolio-Media>
                              • Portefeulje-Media (Afr)
                            • Application for membership/Aansoek om lidmaatskap
                              • Regional Branches/Takke>
                                • Streekstakke (Afr)
                              • Trees/Bome
                                • Trees of the Year/Bome van die Jaar
                                  • FSA Tree Names & Numbers/FSA Boom Name & Nommers
                                    • Protected Trees/Beskermde Bome
                                      • Champion Trees/Kampioen Bome
                                        • Big Trees/Groot Bome
                                          • Recources/Hulpbronne
                                          • Shop/Winkel
                                            • Books/Boeke>
                                              • Boeke (Afr)
                                              • Name Tags/Naambordjies>
                                                • Naambordjies (Afr)
                                              • Links/Skakels
                                                • Skakels (Afr)
                                                • Contact/Kontak
                                                  • Kontak (Afr)
                                                  • Tree Blog/Boom-blog
                                                   

                                                  Grondwet

                                                  01. Naam
                                                  02. Oogmerk/Missie
                                                  03. Doelstellings
                                                  04. Definisies
                                                  05. Regstatus
                                                  06. Lidmaatskap
                                                  07. Bestuur van die Vereniging
                                                  08. Streekstakke
                                                  09. Aanspreeklikheid
                                                  10. Fondse van die Vereniging
                                                  11. Eiendom en Bates
                                                  12. Uitvoer van Aktes
                                                  13. Reëls
                                                  14. Wysigings
                                                  15. Ontbinding

                                                  01. Naam 
                                                  Die naam van die vereniging is die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika (Die Vereniging).

                                                  02. Oogmerk/Missie 
                                                  Die bevordering van kennis, beskerming en aanplanting van bome en die behoud van boom-oorheersde ekostelsels as ‘n bydrae tot persoonlike verryking en volhoubare omgewingsbestuur.

                                                  03. Doelstellings 
                                                  3.1 Die bevordering van dendrologiese kennis by sy lede as bydrae tot persoonlike verryking deur uitstappies, lesings, kursusse, simposiums, herbariums, versameling en verspreiding van dendrologiese kennis, webwerwe en publikasies.
                                                  3.2 Hulp met die bevordering en bewusmaking van die Suid-Afrikaanse publiek en staatsdepartemente van kennis van bome in die belang van die beskerming van bome en die behoud van boomoorheersde ekostelsels as ‘n bydrae tot volhoubare omgewingsbestuur.
                                                  3.3 Bystand aan die publiek van tegniese dienste soos identifikasie van bome, opmeet van bome en ander kundigheid en vaardighede.
                                                  3.4 Aanmoediging van wetenskaplike navorsing oor dendrologie.
                                                  3.5 Die erkenning van uitnemendheid in diens van die bevordering van boom kennis aan die Suid-Afrikaanse gemeenskap.

                                                  04. Definisies 
                                                  4.1 “Sentrale Komitee” beteken die komitee, verkies deur stemgeregtigde lede van die Vereniging, wat die bedrywighede van die Vereniging bestuur en koördineer op ‘n nasionale vlak.
                                                  4.2 “Voorsitter” beteken die behoorlik verkose hoof van ‘n streekstak.
                                                  4.3 “Komitee” beteken die bestuursliggaam van enige streekstak in die Dendrologiese Vereniging
                                                  4.4 “President” beteken die behoorlik verkose hoof van die Vereniging en voorsitter van die Sentrale Komitee.
                                                  4.5 “Streekstak” beteken ‘n gedeelte van die land waar ten minste 10 lede van die Vereniging gewillig is om ‘n streekstak te stig en reël wat dienste lewer aan die lede in die streek.
                                                  4.6 “Reëls” beteken die reëls in hierdie Grondwet en enige wysigings daarop.
                                                  4.7 “Vereniging” beteken die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika.

                                                  05. Regstatus
                                                  5.1 Die Vereniging is ‘n vrywillige liggaam, polities onverbonde en sonder winsbejag.
                                                  5.2 Die Vereniging kan, deur middel van die Sentrale Komitee, aan die regsverkeer deelneem en dit sluit in die verkryging, hou en vervreemding van vaste, onroerende en ontasbare eiendom.
                                                  5.3 Die Vereniging is regtens van die vermoë om alle sodanige aksies te verrig as wat nodig is of bydraend is in die uitvoering en bevordering van sy doelstellings.
                                                  5.4 Die Vereniging word bestuur deur die President en die Sentrale Komitee deur middel van ‘n Bestuurskomitee wat bygestaan kan word deur aangestelde administratiewe personeel.

                                                  06. Lidmaatskap 
                                                  6.1 KLASSE VAN LIDMAATSKAP
                                                  6.1.1 Algemene lidmaatskap staan oop vir alle natuurlike persone, en sluit die volgende klasse in:
                                                  6.1.1.1 Individuele lidmaatskap
                                                  6.1.1.2 Gesinslidmaatskap (ouers en skoolgaande kinders)
                                                  6.1.1.3 Studentelidmaatskap (bona fide studente, met studentebewys)
                                                  6.1.1.4 Skoollidmaatskap vir individuele skole
                                                  6.1.1.5 Korporatiewe lidmaatskap
                                                  6.1.1.6 Weldoenerlidmaatskap (lidmaatskap beperk tot die tydsduur van weldoening soos met die Sentrale Komitee ooreengekom)
                                                  6.1.2 Erelidmaatskap word toegeken aan enige persoon vir uitnemendheid in diens van die uitbreiding van boomkennis aan die Suid-Afrikaanse gemeenskap.

                                                  6.2 AANSOEK OM LIDMAATSKAP
                                                  6.2.1 Alle Klasse van lidmaatskap
                                                  Enige persoon of entiteit wat ‘n lid wil word moet ‘n aansoekvorm voltooi. Nuwe aansoeke word oorweeg en goedgekeur deur die Sentrale Komitee van die Vereniging.
                                                  6.2.2 Erelidmaatskap
                                                  Erelede kan voorgestel word deur ten minste twee lede van die Sentrale Komitee of deur ‘n streekstak van die Komitee. ‘n Volledige opgaaf moet saam met die geskrewe voorlegging aan die Sentrale Komitee voorgelê word vir oorweging. Die voorstel sal aanvaar word wanneer ‘n twee-derde meerderheid van die Sentrale Komitee dit goedkeur en wanneer dit die goedkeuring van die Jaarvergadering wegdra.
                                                  6.2.3 Alle lede word gelys in ‘n register van lede na gelang van die besondere klas van lidmaatskap.

                                                  6.3 LIDMAATSKAPFOOIE
                                                  6.3.1 Alle nuwe lede betaal ‘n intreefooi. Die fooie word bepaal deur Sentrale Komitee en kan gewysing word van tyd tot tyd.
                                                  6.3.2 Alle lede van die vereniging betaal ‘n jaarlikse lidmaatskap fooi soos bepaal deur die Sentrale Komitee van die vereniging. Die fooi kan gewysig word van tyd tot tyd en die Sentrale Komitee is by magte om weg te doen met die fooi of dit te verminder indien dit gesien word as gepas of in die beste belang van die vereniging. Die Sentrale Komitee kan eweneens besluit om enige fooie of heffings betaalbaar aan die vereniging te herstel en sodanig besluit val binne die uitsluitlike diskresie van die Sentrale Komitee. Erelede is vrygestel van die betaling van fooie.
                                                  6.3.3 Lidmaatskap fooie is betaalbaar binne 60 dae na die begin van die nuwe boekjaar.
                                                  6.3.4 Waar lidmaatskap aanvaar word na die begin van die boekjaar sal sodanige ledegelde pro rata bereken word. Die ledegelde is betaalbaar binne dertig dae van die datum van aanname as ‘n lid. Indien die ledegeld nie behoorlik betaal word nie sal die persoon nie aangeteken word as ‘n lid nie.
                                                  6.3.5 Ledegelde is verskuldig en betaalbaar en die vereniging kan dit verhaal deur middel van die regsproses.
                                                  6.3.6 By verstek van betaling van die volle ledegeld soos vermeld in 6.3.3. sal die lid se stemreg opgeskort word. Die lid word daarvan in kennis gestel en ‘n finale rekening word gelewer aan die lid. Indien die gelde nie in hierdie stadium betaal word nie word lidmaatskap beëindig.
                                                  6.3.7 Waar die lidmaatskap van ‘n lid opgeskort word ingevolge 6.3.3, of vir enige rede anders as skorsing deur die Sentrale Komitee, kan die lid hertoegelaat word op betaling van ‘n herinstellingsfooi. Geen aansoekvorm hoef voltooi te word nie en geen intreefooi is betaalbaar nie. Die herinstellingsfooi word bepaal deur die Sentrale Komitee.
                                                  6.3.8 Onder geen omstandighede en vir geen rede word ledegelde of heffings, of enige gedeelte daarvan, terugbetaal nie.

                                                  6.4 STEMREG
                                                  Alle lede het stemreg onderhewig aan die bepalings van die klousule 6.3.3, 6.3.6 en 6.3.7.


                                                  6.5 DUUR EN TERMYN VAN LIDMAATSKAP
                                                  6.5.1 Lidmaatskap kan opgeskort word slegs in ooreenstemming met die bepalings van hierdie grondwet.
                                                  6.5.2 ‘n Lid hou op om ‘n lid te wees in enige kategorie van lidmaatskap –
                                                  6.5.2.1 wanneer sy/haar skriftelike bedanking ontvang word;
                                                  6.5.2.2 indien ledegelde nie behoorlik betaal word binne die voorgeskrewe termyn nie (60 dae na die begin van die nuwe boekjaar) soos gemeld in die grondwet onder 6.3.3 en 6.3.6.
                                                  6.5.2.3 wanneer die houer van ‘n amp nalaat om sy dienste te vervul nadat hy/sy skriftelik daarvan in kennis gestel is, of wanneer ‘n lid optree in konflik met die oogmerke van die vereniging en skriftelik daarvan in kennis gestel is, kan lidmaatskap gekanselleer word in die diskresie van die sentrale komitee of 
                                                  6.5.2.4 by sy/haar afsterwe.

                                                  6.6 REGTE VAN LEDE
                                                  6.6.1 Elke lid van die Vereniging het toegang tot die inligting waarop so ‘n lid redelikerwys geregtig is.
                                                  6.6.2 Elke opbetaalde lid van die vereniging het die reg om deel te neem aan enige aktiwiteit van die vereniging en sy takke en is, verder, geregtig op al die voorregte soos bepaal in hierdie grondwet.
                                                  6.6.3 Elke lid van die vereniging is geregtig om te stem en is verkiesbaar tot die ampte van die vereniging.
                                                  6.6.4 Elke lid is geregtig om nuusbriewe en pamflette gratis te ontvang.


                                                  6.7 AANSPREEKLIKHEID OF EISE VAN LEDE
                                                  6.7.1 Die aanspreeklikheid van elke lid vir die skuld van die Vereniging is beperk tot die ledegelde wat die lid verskuldig is aan die Vereniging.
                                                  6.7.2 Geen lid, gewoon of in ‘n bestuurshoedanigheid, sal enige eis teen die vereniging hê ten opsigte van kostes aangegaan, verliese, skade of beserings gely as gevolg van hulle bywoning van vergadering, uitstappies, of enige ander aktiwiteit wat deur die Vereniging aangebied word nie.


                                                  07. Bestuur van die Vereniging
                                                  7.1 ALGEMEEN
                                                  7.1.1 Die bestuur van die vereniging word behartig deur die Sentrale Komitee. Die Sentrale Komitee kies indien nodig uit eie geledere ‘n bestuurskomitee wat die algemene bestuur van die vereniging namens die Sentrale Komitee en die lede behartig.
                                                  7.1.2 Slegs opbetaalde lede mag dien op die Sentrale Komitee.
                                                  7.1.3 Geen lid sal enige eis teen die vereniging hê nie ten opsigte van koste aangegaan of verliese of skade gely as gevolg van hulle bywoning van vergaderings.

                                                  7.2 DIE PRESIDENT
                                                  7.2.1 Die president van die vereniging, wat ook optree as die voorsitter van die Sentrale Komitee, word verkies deur al die stemgeregtigde lede van die vereniging tydens die algemene jaar vergadering genoem in 7.4.5.
                                                  7.2.2 Die president moet verkieslik kundig wees op die gebied van dendrologie.
                                                  7.2.3 Die president word verkies vir ‘n termyn van twee jaar.
                                                  7.2.4 ‘n Versoek om nominasies vir die amp van president sal per pos, epos of faks aan al die stemgeregtigde lede gestuur word. ‘n Lys van die lede wat kwalifiseer vir nominering sal aangeheg word by die skrywe.
                                                  7.2.5 ‘n Lid kan genomineer word slegs indien die genomineerde skriftelik toestem daartoe voor datum van voorlegging.
                                                  7.2.6 Nominasies moet die bestuurskomitee bereik voor die sluitingsdatum.
                                                  7.2.7 Alle genomineerdes moet ‘n CV en ‘n credo voorlê aan die bestuurskomitee vir aanhegging aan die stembriewe.
                                                  7.2.8 Stembriewe moet teruggestuur word aan die bestuurskomitee en ontvang word twee dae voor die verkiesingsdatum. Stembriewe kan ook ingelewer word by die algemene jaarvergadering.
                                                  7.2.9 Verkiesingsbeamptes sal aangestel word by die algemene jaarvergadering. Alle stembriewe sal op die aangewese tyd oopgemaak word en die stembriewe sal getel en nagegaan word.
                                                  7.2.10 Die verkiesingsbeamptes sal die uitslag van die verkiesing rapporteer tydens die algemene jaarvergadering. Sodra die lede die uitslag aanvaar kan die stembriewe vernietig word.
                                                  7.2.11 Die besturende komitee van die Sentrale Komitee is gemagtig om besluite te neem ten opsigte van nominasies en verkiesings indien dit sou gebeur dat daar geen nominasies is ingevolge klousule 7.2.6 en 7.2.8 nie.

                                                  7.3 DIE SENTRALE KOMITEE
                                                  7.3.1 Algemeen
                                                  7.3.1.1 Die Sentrale Komitee word by die algemene jaarvergadering verkies deur al die stemgeregtigde lede van die vereniging. Die Sentrale Komitee bestaan uit minstens vyf en hoogstens nege lede, insluitend die persoon verkies tot die president van die vereniging.
                                                  7.3.1.2 Die Sentrale Komitee word verkies vir ‘n termyn van twee jaar.
                                                  7.3.1.3 Die president en enige ander verkose lid van die Sentrale Komitee en die bestuurskomitee mag na elke dienstermyn van twee jaar herkies word.

                                                  7.3.2 Nominasies
                                                  7.3.2.1 ‘n Versoek om nominasies vir ‘n persoon om te dien op die Sentrale Komitee word gevra per pos, epos of faks van al die stemgeregtigde lede. Nominasies mag voorgelê word slegs nadat die toestemming van die genomineerde verkry is. Nominasies moet die bestuurskomitee bereik voor die sluitingsdatum.
                                                  7.3.2.2 Stembriewe word verskaf aan al die lede en moet voltooi en teruggestuur word om die bestuurskomitee te bereik laastens een dag voor die algemene jaarvergadering of mag ingelewer word by die algemene jaarvergadering.
                                                  7.3.3 Verkiesings
                                                  7.3.3.1 Verkiesings vir lede van die Sentrale Komitee word gehou by die algemene jaarvergadering in die jaar waarin die ampstermyn uitloop. Die eresekretaris sal die ampstermyne van al die ampsdraers in die Sentrale Komitee aanteken.
                                                  7.3.3.2 Indien daar minder nominasies is as vakatures sal die genomineerdes by verstek verkies word tot die Sentrale Komitee.
                                                  7.3.3.3 Verkiesingsbeamptes word aangestel by die algemene jaarvergadering. Alle stembriewe sal oopgemaak word, getel en nagegaan word. Die verkiesingsbeampte sal die uitslae rapporteer aan die algemene jaarvergadering. Sodra die uitslag aanvaar is deur die teenwoordige lede word die stembriewe vernietig.
                                                  7.3.4 Vakatures in die Sentrale Komitee
                                                  7.3.4.1 In die geval van bedanking, onbevoegdheid of afsterwe van enige lid van die Sentrale Komitee of die bestuurskomitee sal die amp vakant verklaar word deur die bestuurskomitee wat die streek waaruit die lid kom, sal vra om ‘n ander lid te nomineer om die vakature te vul vir die res van die termyn. Die Sentrale Komitee neem ‘n besluit oor wie ‘n vakature in die bestuurskomitee vul. Vir doeleindes van hierdie subartikel kan afwesigheid, sonder verskoning, van twee opeenvolgende vergaderings van die Sentrale Komitee of Bestuurskomitee, of drie opeenvolgende vergaderings van die Sentrale Komitee of bestuurskomitee met verskoning, beskou word as onbevoegdheid.

                                                  7.4 MAGTE VAN DIE SENTRALE KOMITEE
                                                  7.4.1 Die Sentrale Komitee sal byeenkom slegs wanneer aangeleenthede bespreek moet word wat die fisiese teenwoordigheid van al die lede van die Sentrale Komitee vereis. Lede van die Sentrale Komitee wat nie dien op die bestuurskomitee nie sal nogtans afskrifte ontvang van die agendas en die notules van die bestuurskomitee vergadering en sal geleentheid hê om byvoegings te maak tot die agenda of om beswaar te maak teen enige genotuleerde aangeleentheid binne vyf dae na versending van die notule. Enige besware sal verwys word na die bestuurskomitee vir verdere oorweging.
                                                  7.4.2 Die Sentrale Komitee sal die sake van die vereniging bestuur en sal alles doen wat beskou word as nodig om die oogmerke en verpligtinge gemeld in hierdie grondwet na te kom. Indien nodig, kan die Sentrale Komitee ‘n administratiewe beampte(s) aanstel om bystand te lewer in die uitvoering van die bestuurspligte. Die aangestelde beampte sal aanspreeklik wees aan die Sentrale Komitee vir alles wat hy/sy onderneem namens die vereniging.
                                                  7.4.3 Die Sentrale Komitee is by magte om komitees aan te stel aan wie hy sulke pligte mag delegeer as wat nodig is in die uitvoering van die oogmerke van die vereniging. Lede van die Sentrale Komitee of van die vereniging kan aangestel word op sulke komitees. Lede van die Sentrale Komitee kan ampshalwe lede wees van al die komitees. Die Sentrale Komitee sal ook die mag hê om enige van sy komitees te ontbind.
                                                  7.4.4 Die Sentrale Komitee sal tekenmagtiging namens die vereniging gee aan twee lede van die bestuurskomitee. Die Sentrale Komitee kan ook besluit om tekenmagtiging te gee aan die administratiewe beampte.
                                                  7.4.5 Die Sentrale Komitee belê, op vasgestelde tyd en plek, ‘n algemene jaarvergadering binne 120 dae na die einde van die vereniging se boekjaar. By hierdie vergadering word uitvoering gegee aan die aktiwiteite beskryf in 7.2.1, 7.3.1 en 10.7 sowel as enige ander sake wat die Sentrale Komitee nodig ag.
                                                  7.4.6 Die Bestuurskomitee van die Sentrale Komitee sal die reg hê om, indien geen nominasies t.o.v. 7.2.6, 7.2.8 en 7.3.2.1 ontvang word nie, voort te gaan met die verkiesing na goeddunke.
                                                  7.4.7 By ontvangs ‘n geskrewe versoek geteken deur ten minste sewe stemgeregtigde lede van die vereniging sal die eresekretaris ‘n buitengewone algemene vergadering belê. Afhangende van die dringendheid van die aangeleentheid sal so ‘n vergadering belê word met redelike kennisgewing aan al die lede maar nie later nie as 45 dae na ontvangs van die versoek.
                                                  7.4.8 Die Sentrale Komitee kan ooreenkomste aangaan met enige liggaam of persone binne of buite Suid-Afrika ten opsigte van enige aangeleentheid van gemeenskaplike belang en in die bevordering van die oogmerke van die vereniging.
                                                  7.4.9 Die Sentrale Komitee kan reëlings aangaan met enige regeringsliggaam (sentraal, provinsiaal, streeks, plaaslik of andersins) maatskappy of persoon om van sodanige regeringsgesag, maatskappy of persoon geld, regte, ooreenkomste, konsessies, of voorregte te verkry wat kan help in die bereiking van die oogmerke van die vereniging.
                                                  7.4.10 Die Sentrale Komitee kan assosieer of affilieer met enige organisasie wat oogmerke het soortgelyk aan die van die vereniging.

                                                  7.5 DIE BESTUURSKOMITEE
                                                  7.5.1 Die bestuurskomitee word saamgestel, sover moontlik, uit lede van die Sentrale Komitee, insluitende die president, van wie almal verwag sal word om al die vergaderings by te woon. Die bestuurskomitee sal ten minste drie lede hê naamlik ‘n voorsitter, wat die president is, ‘n eresekretaris en ‘n erepenningmeester. Die bestuurskomitee word verkies op die dag van die algemene jaarvergadering.
                                                  7.5.2 Die bestuurskomitee kan ‘n administratiewe beampte aanstel en hy/sy sal ampshalwe alle vergaderings van die bestuurskomitee bywoon.
                                                  7.5.3 Die bestuurskomitee sal ten minste drie maal per jaar byeenkom en verdere vergaderings reël soos nodig ten einde die sake van die vereniging effektief te bestuur.

                                                  7.6 BEËINDIGING VAN LIDMAATSKAP VAN DIE SENTRALE KOMITEE EN DIE BESTUURSKOMITEE
                                                  ‘n Lid van die Sentrale Komitee en bestuurskomitee sal ophou om ‘n amp te beklee:
                                                  7.6.1 wanneer hy/sy skriftelik bedank;
                                                  7.6.2 wanneer hy/sy stemreg verloor soos vermeld in 6.3.6;
                                                  7.6.3 by afwesigheid van die vergaderings van die Sentrale Komitee en bestuurskomitee soos aangedui in 7.3.4

                                                  08. Streekstakke 
                                                  8.1 Die voorneme om ‘n streekstak te stig moet aan die Bestuur van die Sentrale Komitee verklaar word. ‘n Kopie van die grondwet van die Vereniging moet beskikbaar gemaak word om te verseker dat die tak in ooreenstemming met die grondwet daar gestel word.
                                                  8.2 Lede van die vereniging wat woon in enige streek in die Republiek van Suid-Afrika kan ‘n streekstak oprig wat optree binne die Dendrologiese Vereniging van Suid Afrika. Die lede van daardie tak het die reg om ‘n naam te benoem en om die tak te identifiseer met enige gepaste naam en sal duidelik aandui dat dit ‘n substruktuur is van die vereniging. Die Bestuurskomitee sal deur die nuwe takbestuur in kennis gestel word van die detail van die verloop van die stigtingtingsvergadering.
                                                  8.3 Ten minste tien volle lede van die Vereniging is nodig om ‘n Streekstak op te rig en dit te bedryf en bestuur volgens die takregulasies wat deur die Sentrale Komitee opgestel word.
                                                  8.4 Wysigings van die takregulasies word deur die Sentrale Komitee aangebring soos benodig. Enige takbestuurskomitee mag skriftelike voorstelle vir sodanige wysigings aan die Sentrale Komitee voorlê vir oorweging.
                                                  8.4.1 Voorstelle vir die wysiging van die takregulasies word aan die ere-sekretaris gestuur.
                                                  8.4.2 Die Sentrale Komitee oorweeg die voorstelle soos in 8.4 bedoel op hul eersvolgende vergadering na ontvangs daarvan en kan dit goedkeur en aanbring of wysig en aanbring of afkeur.
                                                  8.5 Die takke moet verslag lewer oor hulle aktiwiteite aan die Sentrale Komitee om saam te val met die vergaderings van die bestuurskomitee.
                                                  8.6 Die lede van die vereniging wat wil deelneem aan die aktiwiteite op ‘n streeksvlak moet aansluit by die streekstak van hulle keuse.
                                                  8.7 Ledegelde word deur die Sentrale Komitee gevorder.
                                                  8.8 Vir toewysing van bestuurskostes lê takkomitees ‘n volledige begroting voor ten minste 30dae voor die begin van elke nuwe boekjaar.
                                                  8.9 ‘n Streekstak kan gesluit word wanneer die meerderheid van die lede van daardie tak so besluit by ‘n vergadering wat behoorlik saamgestel is deur kennisgewing ten minste drie weke voor die datum van die vergadering; of wanneer die ledetal daal onder tien. Enige oorgeblewe takfondse sal aan die Sentrale Komitee oorgedra word.

                                                  09. Aanspreeklikheid 
                                                  9.1 Elke lid van die Sentrale Komitee en enige sub-komitee daarvan en elke beampte, sekretaris, ouditeur of enige ander aangestelde amptenaar van die vereniging sal verantwoordelik wees vir sy/haar optrede.
                                                  9.2 Geen lid van die Sentrale Komitee of enige sub-komitee daarvan en elke beampte, sekretaris, ouditeur of enige ander aangestelde amptenaar van die vereniging loop enige persoonlike aanspreeklikheid op ten opsigte van enige verlies of skade veroorsaak deur enige optrede, late of magtiging wat deur hom/haar bona fide gedoen is.

                                                  10. Fondse van die Vereniging
                                                  10.1 Die bestuurskomitee bestuur die fondse van die vereniging deur die erepenningmeester tensy anders bepaal deur die Sentrale Komitee.
                                                  10.2 Die Sentrale Komitee ontvang alle ledegelde, borge, donasies, toewysings of erflatings of enige fondse wat toeval aan die vereniging.
                                                  10.3 Die Sentrale Komitee plaas die takbestuursfooie oor deur die erepenningmeester.
                                                  10.4 Die inkomste en eiendom van die vereniging kan gebruik word slegs ter bevordering van die oogmerke van die vereniging. Geen gedeelte daarvan mag oorgedra word nie, direk of indirek, aan lede van die vereniging behalwe betalings wat bona fide redelike vergoeding is vir enige ampsdraer, lid, werknemer of hulp van die vereniging vir bona fide dienste gelewer soos bepaal deur die Sentrale Komitee.
                                                  10.5 Takke kan ad hoc versoeke vir bykomende fondse rig aan die Sentrale Komitee vir oorweging.
                                                  10.6 Die Sentrale Komitee en die tak komitees sal behoorlik boekhou van alle gelde ontvang en uitgegee en van alle bates en laste van die vereniging. Die vereniging se rekords sal geoudit word deur ‘n firma van geoktrooieerde rekenmeesters wat aangestel word deur die Sentrale Komitee aan die einde van elke finansiële jaar.
                                                  10.7 Die finansiële state en balansstate van die vereniging sal voorgelê word aan die lede van die vereniging en sal per stemming goedgekeur word by die algemene vergadering soos vermeld in 7.4.5.
                                                  10.8 Die boekjaar van die vereniging eindig op 28 Februarie van elke jaar.

                                                  11. Eiendom en bates
                                                  11.1 Alle bates en eiendomme van die vereniging, vas of andersins, word geadministreer deur die Sentrale Komitee namens die vereniging.
                                                  11.2 Ongeag uit watter bron afkomstig, die inkomste en wins van die vereniging word gebruik slegs vir die bevordering van die oogmerke van die vereniging soos uiteengesit in hierdie grondwet. Geen gedeelte daarvan sal betaal of oorgedra word nie, direk of indirek of by wyse van bonus of dividend of andersins, of by wyse van winsverdeling aan enige persoon wat ten enige tyd lid is of was van die vereniging of aan enige persoon wat deur sodanige lid aanspraak maak daarop.

                                                  12. Uitvoering van Aktes 12.1 Tensy anders bepaal deur die Sentrale Komitee word alle dokumente en tjeks wat getrek word op die vereniging geteken deur twee persone met tekenregte soos neergelê in 7.4.4.

                                                  13. Reëls
                                                  13.1 Die grondwet word ondersteun deur die reëls van die vereniging.
                                                  13.2 Die Sentrale Komitee is by magte om die reëls van tyd tot tyd te wysig indien dit nodig sou blyk ten einde uitvoering te gee aan die oogmerke van die vereniging. Die wysigings word geïnisieer deur die bestuurskomitee wat dit sal voorlê aan die Sentrale Komitee vir goedkeuring. Daar moet kennis gegee word van enige voorstel vir die wysiging van die reëls in ‘n agenda of kennisgewing wat ‘n vergadering van die bestuurskomitee belê.

                                                  14. Wysigings 
                                                  14.1 Enige voorstel tot wysiging van hierdie grondwet word skriftelik gemaak deur of die bestuurskomitee, of die Sentrale Komitee of enige lid wat ondersteun word deur ten minste tien stemgeregtigde lede. So ‘n geskrewe voorstel word gelewer aan die eresekretaris.
                                                  14.2 Enige voorstel tot wysiging van hierdie grondwet soos bespreek in 14.1 word voorgelê aan al die stemgeregtigde lede ten minste twee weke voor die dag waarop die stemming sal plaasvind.
                                                  14.3 Hierdie grondwet kan gewysing word slegs by besluit van twee-derde meerderheid van die lede wie se stembriewe ontvang is op die voorgeskrewe stemdatum.
                                                  14.4 ‘n Behoorlik goedgekeurde wysiging van die grondwet word bekend gemaak op die wyse soos bepaal deur die bestuurskomitee.

                                                  15. Ontbinding 
                                                  15.1 Die vereniging kan amalgameer of verbind met enige soortgelyke instelling by besluit van die Sentrale Komitee voorgelê aan die stemgeregtigde lede vir stemming en goedgekeur deur twee-derdes van die lede wie se stembriewe ontvang is op die voorgeskrewe stemdag.
                                                  15.2 Die vereniging kan ontbind deur besluit van die Sentrale Komitee voorgelê aan die stemgeregdigde lede by hulle geregistreerde posadresse vir stemming by wyse van posstem en goedgekeur deur ‘n twee-derde meerderheid van die lede wat gestem het per posstem soos ontvang op die voorgeskrewe stemdag.
                                                  15.3 Alle bates oorblywend na voldoening aan die eise sal oorgedra word aan ‘n ander vereniging, assosiasie of organisasie met oogmerke wat wesenlik dieselfde is as daardie wat beskryf word in hierdie grondwet.
                                                  'Arborum silvarumque conservatio salus mundi est'